Wednesday, November 2, 2011

Mugabe is n kannie dood

Kannie dood Mugabe.

President Robert Mugabe moet dit oorweeg om uit te tree terwyl ouderdom en swak gesondheid die 87-jarige Zimbabwiese leier begin inhaal, het Morgan Tsvangirai, Eerste Minister, vandag gesê.

“Die kwessie van ouderdom haal hom in, die kwessie van gesondheid haal hom in. Ek is seker dat hy in ‘n posisie moet wees om ter wille van die land, ter wille van sy nalatenskap en ter wille van sy kinders uit te tree,” het Tsvangirai by ‘n mediakonferensie gesê.

Dié opmerkings was die duidelikste openbare aanduiding nóg dat Mugabe se gesondheid aan die agteruitgaan is, te midde van berigte dat die leier aan prostaatkanker ly en dat dit na ander gedeeltes van sy liggaam versprei het.

Mugabe het Sondag teruggekeer ná ‘n private besoek aan Singapoer. Dít het al ‘n bykans maandelikse tog vir hom geword.

Die president, wat aan bewind is sedert die land onafhanklik van Brittanje geword het in 1980, het spekulasies oor sy gesondheid afgelag.

“Soos julle kan sien, is hierdie Mugabe gesond,” het hy Sondag met sy terugkeer aan die staat se media gesê.

Tsvangirai wou nie die kwaal waaraan Mugabe ly, bespreek nie.

“Hy ly duidelik nie aan malaria nie,” het Tsvangirai gesê, aangesien dié algemene siekte in Zimbabwe “by die naaste hospitaal” behandel kan word.

Tsvangirai het ook die onkoste wat gemaak word om Mugabe na Asië te stuur vir gesondheidsorg, verdedig.

“Dit is die verantwoordelikheid van die staat om na sy leiers om te sien. As die president siek is, moet daar na hom omgesien word,” het Tsvangirai gesê.